Media Archive

Revolusionêr

Friday, 8 May 2009

Source: Theunis Engelbrecht (Die Burger)

Die groep Koos het in die jare tagtig die mees revolusionêre Afrikaanse en Engelse musiek in die land gemaak. Sy enigste album is pas ná twintig jaar vir die eerste keer op CD uitgereik. THEUNIS ENGELBRECHT vertel meer:
As ’n mens sê “Koos”, dink die meeste mense aan Koos van der Merwe, Koos Kombuis, Koos du Plessis of die eg Afrikaanse woord vir ’n piepot.
Koos was egter ook die naam van ’n groep kunstenaars van Johannesburg wat van 1986 tot 1989 – in die hoogbloei van die apartheidsjare – saamgespan en onder meer in klubs opgetree het. Presies twintig jaar gelede het Koos sy enigste album opgeneem. Nou – met die voordeel van retrospek – is baie mense dit eens dat Koos die mees revolusionêre en uitdagende protesmusiek ooit in Suid-Afrika gemaak het.
Koos was so ondergronds dat sy album nooit op viniel verewig is nie. Dit is uitgereik as ’n pikswart kasset sonder enige etiket in ’n bruin papiersak met die woord KOOS daarop gestempel en ’n papiervelletjie waarop al die lirieke op ’n ou tikmasjien getik en gefotostateer is.
Twee van die snitte, “Cowboy” en “Sing jy van bomme” is op die destydse Voëlvry-album opgeneem, en Koos se aweregse weergawe van Tom Jones se “Delilah” kan ook op die Houtstok-album gehoor word. (Koos was nie deel van die Voëlvry-toer nie, maar kan eerder beskou word as die ongeprese voorlopers van dié beweging.)
Die afgelope twintig jaar het hierdie swart kasset in die bruin papiersak kultus-versamelaarstatus behaal as Die Swart Kasset en is dit uiters moeilik – trouens onmoontlik – om dit in die hande te kry.
Die inhoud daarvan is plofbaar en kan sensitiewe luisteraars hewig ontstel. Met die eerste luisterslag is dit so duidelik soos daglig dat dit die kragtigste Afrikaanse punkmusiek is wat nog ooit gemaak is.
Dit is intens en hard en vol rou krete – krete van verset teen die destydse burgerlike orde en kleinburgerlike mentaliteit in die land, krete van woede oor onreg en wreedheid, krete van die gatvolheid vir die kollektiewe angs-psigose van daardie noodtoestandjare, krete van verontmensliking en vervreemding:
Hier op die front sal ons dan sing
Ja reg hier in die kroeg
Ons sal maar sing van vereensaming
En van bomme wat boem-boem-boem
Ons is nie bang vir soldate nie
Net vir wat hulle kan doen
Ons moet maar sing van anargie
En van bomme wat boem-boem-boem
Ons sal sing vir die slapendes
Wat droom van geweld en bloed
Ons moet sing vir die skadeloses
En van bomme wat boem-boem-boem.
(Uit “Sing jy van bomme”.)
Die lede van Koos was die bekende akteurs Marcel van Heerden (sang en stemme) en Gys de Villiers (baskitaar en saxofoon) asook Neil Goedhals (kitaar), Christo Boshoff (baskitaar, saxofoon en klawerborde), Velile Nxazonke (tromme en perkussie), die bekende visuele kunstenaar Kendell Geers (klawerborde en tape loops) en Megan Kruskal (sang en stemme).
“Ek en Gys en Megan en Christo het van die teater af gekom,” sê Van Heerden. “Neil en Kendell was kunstenaars. Velile was sy eie man.”
Koos was dus meer as net ’n punkgroep – dit was nie net die uitdagendste Suid-Afrikaanse album ooit nie, maar ook die mees eksperimentele.
“Koos se werk was ’n hoogs persoonlike reaksie op die chaos en wanhoop waardeur Suid-Afrika in die middel-1980’s oorweldig is,” sê die bekende Nederlandse skrywer en joernalis Fred de Vries, wat oor die groep geskryf het in sy boek Club Risiko. “Dit was die tyd van noodtoestande, moord, bomaanvalle, mense wat in aanhouding dood is.”
Volgens De Vries was Koos sy tyd ver vooruit – “myle voor die 12-bar-blues en folk wat hul alternatiewe Afrikaanse tydgenote geïnspireer het. Koos se musiek was kunstige anti-rock, aangevuur deur die geraas wat Johannesburg van Berlyn, Sheffield, Melbourne en Keulen bereik het.”
In ’n artikel wat op 10 Februarie 1989 in die destydse Weekly Mail verskyn het, beskryf Ivor Powell Koos soos volg: With its midnight visions and caffeine delusions, it is as much musical theatre as it is music. The music is more sound track than song; the words are full-blown poems rather than lyrics in the usual sense; performing them is as much a
question of projecting roles, or rather dislocations of self, as it is singing.
Wat Koos as projek nog interessanter en nog meer op die snykant gemaak het as enige ander musiek in die land, is dat hy die woorde van skrywers en digters soos Johan van Wyk, Ryk Hattingh, Christopher van Wyk en Nikos Konstandaras gebruik het.
“Ons wou hê dat die digters se woorde gehoor moet word en daarom het ons so ’n helse lawaai gemaak,” sê Van Heerden. “Ons wou nie rock nie. Ons wou moord pleeg, bewusteloos wees. Verkieslik kaal. Die wêreld aan die brand steek met woorde. Dit was dringend. Dit was belangriker as enigiets anders.”
Veral Johan van Wyk se gedigte was geil aarde vir Koos. Daaruit het die groep se rou punk voortgekom, soos op “Ek is my dilemma” en “Sloper”. Maar alles was nie net punk nie – Koos het ander gedigte van Van Wyk, soos “Wil ons oorlewe” en “Vlermuis”, aangevul met indrukwekkende psigedelies-surrealistiese klanklandskappe wat elektronies deur Kendell Geers opgetower is:
Die vlermuis in die doringdraaddorp
In die vroemôremis
Is bang
Die vangwabande gaan geruisloos
Nog ‘n man is gehang
Nog ‘n kind is gebore
Nog ‘n kind is gedood
‘n Mens lewe net eenmaal
Afgekamp
Met helipkopters wat huiwer
Oor stowwerige sokkervelde
JJJ
Johan van Wyk is al beskryf as die eerste (en moontlik enigste) Afrikaanse punk-digter. Hy het vier digbundels gepubliseer – Deur die Oog van die Luiperd (1976), Heldedade kom nie dikwels voor nie (1978), Bome gaan dood om jou (1981) en Oë in ’n kas (1996) – en ’n Engelse novelle, Man-Bitch (2006).
In die Herfs 2009-uitgawe van Boeke-Insig beskryf die romanskrywer Kleinboer Van Wyk (tereg) as “ ’n kultusfiguur, ’n ikoon van die kontra-kultuur en ’n durende invloed op talle kunstenaars”. In sy boeiende artikel oor wat van dié digter geword het, meld Kleinboer dat mense soos Van Wyk, Koos en die dramaturg Chris Pretorius deel van die marginale beweging van Afrikaanssprekendes was.
Hy verwys ook na Juanita Janse van Rensburg se proefskrif Marginal Activity in South African Culture in the Period 1980-1984 waarin sy uitwys hoe die gemarginaliseerde kunstenaars hulle verset het “téén die familie, téén die volk, téén die party, téén die skool, téén kleinburgerlikheid, téén despotiese masjiene” (in Kleinboer se woorde).
Hy voeg by: “Sy gedigte gaan dikwels oor verlies, angs, isolasie, buitestanders, mense wat gewond en seergemaak is.” (Kleinboer noem ook dat die destydse veiligheidspolisie ’n lêer oor Van Wyk gehad het. ’n Mens kan net hoop dat sodanig geklassifiseerde inligting oor die skrywers wat deur die apartheidbewind geïintimideer is, eendag openbaar gemaak sal word, soos wat die FBI-lêers oor John Lennon byvoorbeeld openbaar gemaak is – dit sal boeiende leestof wees.)
JJJ
Koos se politieke kommentaar en verset was baie meer uitdagend as dié van enige ander Suid-Afrikaanse verhoogkunstenaars van die 1980’s. Van Heerden self het ’n vers geskryf uit die eerstepersoon-perspektief van Tsafendas, die moordenaar van H.F. Verwoerd, en die resultaat klink psigoties.
Die groep het ook ’n vers van Christopher van Wyk gebruik wat handel oor die dood van politieke aangehoudenes in polisieselle en die verklarings wat die veiligheidspolisie oor hierdie sterftes uitgereik het:
He fell from the ninth floor
He hanged himself
He slipped on a piece of soap while washing
He hanged himself
He hung from the ninth floor
He hung from a piece of soap while slipping
He hung hung hung hung
He hung from the ninth floor while slipping
He hung from a piece of soap while hanging
He hung
JJJ
Koos het in 1990 ontbind nadat Goedhals nie meer wou optree nie. In Fred de Vries se woorde: “The band had made its statement: that one black tape, wrapped in a brown paper bag to accentuate its illicit content – a nod to the way the American bum must drink his alcohol.”
Op 16 Augustus 1990 het Goedhals selfmoord gepleeg deur van die sesde verdieping van ’n woonstelgebou in Yeoville, Johannesburg, te spring.
’n Paar dae ná sy dood het die nuus bekend geword dat van sy kunswerke deur die Johannesburgse Kunsgalery gekoop is. Voor Goedhals by Koos betrokke geraak het, het hy ook op sy eie eksperimentele, elektroniese musiek gemaak, ook met gedigte van Johan van Wyk. Dié opnames word later vanjaar deur die ondergrondse Amerikaanse platemaatskappy S-S Records uitgereik.
Maar ook Koos leef nou weer voort – Paul Riekert van Battery 9 het die lang verlore Swart Kasset pas op CD uitgereik deur sy platemaatskappy OneF Music en meer mense kan nou – twintig jaar later – dié revolusionêre, grensverskuiwende groep se musiek hoor. Dit bevat ook twee snitte wat nie destyds op Die Swart Kasset was nie – “101% Bang” (met woorde deur Johan van Wyk) en “Too Heavy to Rise” (met woorde deur Marcel van Heerden).
Riekert het ook moeite gedoen om die heruitreiking baie spesiaal in ’n besonder mooi uitgawe te verpak – met uittreksels uit getikte lirieke, ’n ou koerantresensie oor die groep, ’n kort essay deur Fred de Vries. En, natuurlik, toegedraai in bruin papier met die woord KOOS daarop gestempel. Opnuut ’n versamelstuk.
“Dit het my nog altyd gepla dat Koos nooit eers LP-fomaat gehaal het nie, dat sulke baanbrekerswerk net op ’n obskure kasset beskikbaar was,” sê Riekert.
“Koos was van die kunstenaars in die laat 1980’s wat die stereotipe van Afrikaanssprekendes ’n lelike knou toegedien het. Dit was donker en onwel. Ek het groot respek vir hulle.
“Koos se skerp kritiek teen ’n gefaalde politieke bestel is nou, twintig jaar later, net so geldig. Ek het verplig gevoel om dit te dokumenteer – ek kon die klankrestourasie self doen en dit uitgee deur my platemaatskappy”.
Koos is heeltemal uniek binne die konteks van Afrikaanse musiek, sê Riekert. “Daar is steeds niks om daarmee te vergelyk nie. Miskien kan ’n mens hulle tog losweg as die voorvaders van donker ‘alternative’ Afrikaanse musiek (teenoor blues-gebaseerde) beskou.”
Sal hy hulle as voorlopers van Voëlvry beskou?
“Ek dink tegnies gesproke was Koos aktief voor Voëlvry, maar ek twyfel of hulle enige groot invloed gehad het daarop,” sê Riekert. “Ek dink Koos was anargiste en die meeste Voëlvry-mense was lefties. Dit was baie duidelik by ’n Voëlvry-konsert wat by Wits gehou is. Koos se angstige, harde anargie was een te veel vir die gehoor. Hulle het ’n sterk negatiewe reaksie gehad, anders as die ander kunstenaars.”
Dat Koos se musiek op sy lang verlore Swart Kasset nou vir die eerste keer op CD beskikbaar is, is nie al belangrike nuus nie. Al vier Johan van Wyk se digbundels was lank uit druk, maar is nou weer in een band beskikbaar (direk by die skrywer by johanvanwyk@lantic.com).
Die slegte nuus is dat hy, volgens Kleinboer, opgehou skryf het. Dit is dus goed dat sy woorde voortleef, ook dié waarvoor Koos sulke opruiende, dinamiese musiek gemaak het. Van Wyk en Koos mag nie oorgesien word en in die vergetelheid verdwyn nie, al is dit nie Top 20-materiaal nie.
(Mense wat om dié rede sukkel om Koos se CD in winkels te kry, kan die platemaatskappy se webblad besoek by www.onefmusic.com. En wat Van Wyk betref, is Kleinboer se artikel in die Herfs 2009-uitgawe van Boeke-Insig verpligte leesstof.)

Post a Comment

Your email is never shared. Required fields are marked *

*
*