Source: Danie Marais (Beeld)
Oor 2009 voel ek soos ’n ou wat deur ’n onderwyser gedwing is om ’n sokkie te organiseer en toe doen ek dit langtand en toe kom daar net ’n paar mense en hulle kla oor die ballonne, kos en musiek.
So, vat hierdie gunstelinglysies van wie dit kom – ’n musiekslaaf in sy laat dertigs met ’n babadogter en ’n groot verband; ’n man wat vanjaar bowenal musikale troos gesoek het vir ’n troebel gemoed.
Miskien kon ek juis daarom ook nie vat kry aan ’n paar van die oorsese kritici se albums van die jaar nie.
Hoewel ek kon hoor hoekom musiekskrywers Animal Collective se Merriweather Post Pavillion en die Dirty Projectors se Bitte Orca as hoogs innoverend beskryf, sou ek ’n ander man op ’n ander uitbundiger partytjie op ander gelukkiger dwelms moes wees om daaroor opgewonde te raak.
Musikale pleisters
Gelukkig het die jaar hope uitstekende musikale pleisters vir rou geskaafde nerwe gebied en plaaslik was daar behoorlik ’n ontploffing van goeie musiek: van NuL se oorverdowende industriële rock-protes tot die Radio Kalahari Orkes se heerlike aweregse boeremusiek en Andries Bezuidenhout se seminale, poëties-elegiese Bleek berus wat onder leiding van Drikus Barnard se musiekregie akoestiese folk treffend met elektroniese klanke vervreem het.
Mavis Vermaak (Riana Wiechers) het gewys dat The Buckfever Underground, wat ’n opwindende konsertalbum, Limbs Gone Batty, uitgereik het, nou kompetisie het wat betref die praatsang van poësie met begeleiding van onvoorspelbare, stemmingsryke musiek.
Zinkplaat het hul eiesoortige funky pop-rock-klank verfyn en beïndruk met ’n nuwe album wat met sy treffende afkrap-omslag ook ’n prys vir beste grafiese ontwerp verdien.
En wat besete blues-rock in die tradisie van The White Stripes en The Black Keys betref, het The Pretty Blue Guns die moordende pas aangegee met die manne van Taxi Violence kort op hul hakke.
Bittersoet plesier
’n Ander bittersoet plesier wat herinner het aan vroeë REM met ’n skeutjie country twang, was die Black Hotels se aansteeklike Films for the 21st Century. Dear Reader (voorheen Harris Tweed) en Laurie Levine het gesorg vir lieflike intieme folk-rock met gesofistikeerde bewerkings en subtiele begeleiding, waarvan die res van die wêreld gerus kan kennis neem.
En dan is ek eintlik bang my ma of enige ordentlike mens wat ek ken, hoor ek hou van Die Antwoord, want dié Kapenaars se smerige rap sal vir Eminem laat bloos.
Vir meer vernietigende satire en snaakser vuil grappe op die maat van dodelike hiphop sal jy egter ver soek.
Die lirieke van D**sdronk het ek immers ook al in die uitskelgesprekke tussen bergies op straat gehoor – net sonder die giftige ritmes en refrein.
En met die talentvolle, lelik snaakse Jack Parow se debuut op pad, lyk dit of Afrikaanse rymkletsers (rappers) die subversiewe kultusfenomeen van die nabye toekoms gaan wees.
Unieke klankmonster
Maar wat grensverskuiwend betref, was die BLK JKS (“Black Jacks” uitgespreek) los voor. Dié Johannesburgers het ongetemde prog-rock en 21ste-eeuse Afrika met tradisionele dreunsang en aardse misterie gekruis, en met dié unieke klankmonster het hulle ook indie-rockgeesdriftiges in Amerika en Brittanje laat regop sit.
Nes Neill Blomkamp met sy skitterende District 9 het die BLK JKS die wêreld gewys hoe eiesoortig en fassinerend Suid-Afrika is wanneer dit nie deur die lense van vooropgestelde Westerse of Afro-nasionalistiese idees bekyk word nie.
Verskeidenheid
Aan die internasionale musiekfront het Valiant se “vure vol verskeidenheid” hoog gebrand en was daar stilisties én inhoudelik te kus en te keur. (Sien gerus www.metacritic. com/music/bests/2009.shtml vir toonaangewende oorsese publikasies se toptien-lyste.)
Leonard Cohen het sy terugkeer tot internasionale verhoë in 2008 gevier met die groot konsertalbum Live in London en gewys waarom hy die status van lewende legende geniet.
’n Ander lewende legende uit die 1960’s, Bob Dylan, het ’n lekker spontane blues-album uitgereik en hoewel Together Through Life net die ding was vir die langpad of laatnagmymeringe, het dit nie dieselfde gravitas as sy laaste drie groot uitreikings nie – Modern Times (2006), Love and Theft (2001) en Time Out of Mind (1997).
Springlewendig
’n Paar van 2009 se ander hoogtepunte het opnuut bevestig dat die musikale erfenis van Bob Dylan en The Band springlewendig is – die fakkel is deur ’n opwindende jonger generasie Americana-kunstenaars soos The Low Anthem, Andrew Bird, Monsters of Folk (die supergroep wat bestaan uit Conor Oberst en Mike Mogis van Bright Eyes, Jim James van My Morning Jacket en M. Ward), The Felice Brothers, Richmond Fontaine, Elvis Perkins in Dearland, die Dave Rawlings Machine en M. Ward verder gedra.
Ou staatmakers wat hul reeds monumentale loopbane indrukwekkend verder uitgebou het, is Bruce Springsteen met die besonder eklektiese Working on a Dream en Jack White, wat vir The Dead Weather sy wilde kitaar laat lê het en agter die ketels ingeskuif het.
En hel, The Dead Weather se Gotiese moeras-blues aangevuur deur die sang van die rock-amasone Alison Mosshart was ’n onrusbarende, sexy gedoente.
Windgat-punk-rock
Maar daar was bowenal verskeidenheid: Dié jaar se resessie-blues is aansienlik verlig deur The Cribs se windgat-punk-rock, Florence and the Machine se ondeunde pop-punk, The Flaming Lips se neonkleurige anderwêreldse klankskommels, die Arctic Monkeys se verrassende en broeiende rocker, Humbug, The xx se sielvolle, maar minimalistiese elektroniese ballades, Wilco se ontspanne alt-rock-vertroosting, die Yeah Yeah Yeahs se opruiende, elektroniese disco-rock, DM Stith se lieflike spookmusiek en nagklank-landskappe, Grizzly Bear se psigedeliese indie-rock gelaai met hemelse harmonieë en kaleidoskopiese klanke, Bill Callahan (voorheen bekend as Smog) se teer digterlike versugting en windverwaaide wysies, en Wild Beasts se hipnotiese tweede album – stel jou voor Antony Hegarty (van Antony & The Johnsons) sing vir The Smiths.
En dan was daar die Eels met garage-rock en bitter ballades vol droë humor, wat enige desperate ou weerwolf vir die maan laat tjank het: “I’m more alone than I’ve ever been / Help me out of the shape I’m in / After the fires, before the flood / My sweet baby, I need fresh blood / Whoo! Howl” (Fresh Blood)
Gemoedsmassering
Maar as daar een album is waarna ek keer op keer vir ’n gemoedsmassering teruggekeer het, was dit Neko Case se wonderlike Middle Cyclone.
Dié vurige rooikop-sirene het reeds ’n rits uitstekende folk-rock-albums agter haar naam, onder meer 2006 se mylpaal Fox Confessor Brings the Flood, maar op haar jongste het alles met die hulp van top-musikante soos Jon Rauhouse (akoestiese kitaar en pedal steel), Joey Burns van Calexico (tjello en baskitaar), Howe Gelb van Giant Sand (klavier en kitaar) en M. Ward (kitaar) eenvoudig moeiteloos, perfek in plek geval.
Case se stem is van oewerlose, sensuele verlange gemaak, maar “iets donkers gryp-gryp [altyd] onderaan” en haar beste nuwe liedjies – This Tornado Loves You, People Got a Lotta Nerve (sien die sjarmante video hier: /www.nekocase.com/downloads) en Middle Cyclone – klink of hulle nog altyd daar was.
Dit is egter haar magiese Magpie to the Morning met sy kleutervers-eggo’s wat my herhaaldelik uit my apatie gelok het:
“Magpie comes a calling
Drops a marble from the sky
Tin roof sounds alarming
‘Wake up child’
‘Let this be a warning’
Says the magpie to the morning
Don’t let this fading summer pass you by”.
En daarom het ek my musiekverslawing nog nooit berou nie: ’n Smeulende sangeres op ’n ander kontinent blaas ’n verwikkelde soen op ’n gefluisterde melodie; dit land op jou wang en maak jou oë oop vir die somer wat jy besig is om onge-siens verby te laat glip. Dis tog toordery.
















