Media Archive

BITTER EERLIK

Tuesday, 2 March 2010

Source: Gulsig van Vraat (www.musiekvraat.com)


Bittervrug - daars wolke buite

Bittervrug is akoestiese musiek wat nie bang is om ‘n bloederige hart te ontbloot nie.


Bittervrug is gestroop, eerlik en sonder tierlantyntjies. Die band se tweede album Daar’s wolke buite het die lig gesien onder One F Music se vaandel. Bittervrug bestaan uit Charles Badenhorst en sy eerste album heet Bloed vir Ontbyt en het in 2007 verskyn.
Sy band se naam is heel gepas en beskryf die atmosfeer en lirieke van sy musiek baie goed.
Die dualiteit in bittervrug is ook teenwoordig op die jongste album. Bitter omdat hy dikwels die tema van verlore liefde na vore bring soos op Net toe ek jou vashou en die roerende Wat is ‘n hart. ‘n Vrug kan ook soms lekker proe en dis hier waar die bisarre dualiteit sy kop uitsteek. Vat maar byvoorbeeld Eet jou later. Daar’s twee temas wat hier na vore tree: Die seksuele betekenis van Eet jou later en ook die verhaal van die Duitse bra Armin Meiwes wat ‘n gewillige ou oor die internet gekry het en wat ingestem het dat hy geëet word. Op metaforiese vlak kan Charles se lirieke seker ook verskillend geïnterpreteer word.
Musikaal is Bittervrug gestroop. Dis Charles en sy akoestiese kitaar, met ‘n paar harmonieë en hier en daar ‘n kort solo. As mens Bittervrug in ‘n blik moet druk in terme van genres, sal iets soos aweregse folk seker gepas wees.
Die riff op Sit my af sit my aan is doelbewus staccato om tematies die song te versterk. Charles se harmonieë hierop laat ook iets van Gilmour en Waters van Pink Floyd deurskemer.
Dat ‘n bittervrug nie lekker gaan wees om af te sluk nie, blyk ook op ‘n song soos 2D Girl. Tweedimensioneel en sonder diepte is wat die girl blyk te wees. Bittervrug verkies dat sy eerder die hasepad moet vat. Die volgehoue klokkie-effek skep ook ‘n onheilspellende gevoel.
Ou Charles moes al duidelik so ‘n paar bitterpille(-vrugte) in sy lewe sluk, en dit lei tot emotiewe songs soos Met jou in my kop. Die riff op die song herinner sterk aan Diary of Dreams se Flood of Tears. Daar’s ook sterk lirieke in die liedjie, dink maar net aan: “Ek voel jou so skraps aan my lyf.” Bittervrug is doelbewus gestroop om klem te lê op die lirieke, luister maar net na Leeg met ons harte by die deur,
Dis ‘n aangename verrassing om Afrikaanse kunstenaars te hoor wat nie bang is om hul hart te ontbloot nie, al bloei dit ook hoe erg. Daar’s wolke buite sal nie vir Kurt Darren slapelose nagte besorg oor die moontlikheid dat dit sy nommer een op die treffersparade gaan steel nie, maar dit bevat die hartklop van ware alternatiewe musiek.

Post a Comment

Your email is never shared. Required fields are marked *

*
*