Danie Marais (Die Burger, 2008.10.23)
Paul Riekert is die donker man van Battery 9 wat geraas met groter geraas bestry. Danie Marais het ‘n paar vrae aan hom gestel.
Verlede jaar was Battery 9 se “Die hamster is dood” een van die songs wat my uit die bed uit gekry het. Vanjaar is dit “Geen genade” op die nuwe album. Wat kry jou uit die vere?
“Check one” van Leftfield, of as ek vinnig moet maak, iets hard en vinnig van Ministry. Die idee van vars gemaalde, goeie koffie kry my ook uit die bed uit.
In terme van kommersiële sukses sal Battery 9 waarskynlik ‘n marginale verskynsel bly, maar Galbraak is julle sewende album. Wat motiveer jou om aan te hou beweeg en geraas te maak?
Dis op ‘n manier nie eens ‘n keuse nie, meer soos ‘n kompulsiewe drang. As ek weer kyk, dan het ek nog ‘n album gemaak.
Was jou werkswyse op dié album dieselfde as in die verlede?
Min of meer – waar dit verskil van Straks is dat ek meer klanke en instrumente buite die ateljee opgeneem het, in hul “natuurlike habitat”.
The Clash het in “London calling” gesing: “London is drowning but I have no fear, ’cause London is drowning and I live by the river.” Het jy ‘n soortgelyke instelling oor Jozi en SA?
Ja, die gevoel word nogal raak beskryf, behalwe dat dit by my ‘n effe skisofreniese gevoel ook is; dis steeds waar ek verkies om te bly. Vir nou.
Galbraak is, soos elke Battery 9-album, vol woede, frustrasie en galgehumor. Wat maak jou gelukkig?
Ek is gelukkig as ek kan skep – in watter medium ook al. Nuwe musiek ontdek. Afsondering. Die “goeie lewe” – goeie spys en drank, gemak, ‘n mooi uitsig.
As jy een reël uit ‘n Battery 9-liriek kan kies vir jou grafsteen, wat sal dit wees?
Liewer nie, dis moeilik om Battery9-lirieke te vind wat nié onvleiend is nie. As ek moet, dalk “Maak ‘n nuwe begin…” uit “Nuwe begin”.