Die kinders van die nag het uit die voorstede van Johannesburg uitgekruip. Alle aspekte van die middelklas bestaan was deursigtig – die verveeldheid alomteenwoordig. Daar is bitter min afleiding gebied en daar was nog altyd die smagting na ‘n ewige ontsnapping uit middelmatigheid. ’n Intellektuele rebellie het ontstaan uit ‘n Johannesburgse sub-kultuur wat nie maklik aan die valsheid van die wêreld sluk nie. ’n Groep mense wat op ‘n soektog gegaan het om hulle idees aanmekaar te sit deur middel van literatuur, tersiêre onderrig, die korporatiewe wêreld, films, partytjies en musiek. Hulle is die waarnemers van die afgewaterde 21’ste eeu se samelewing.
Die verslawende ritmes van rock ‘n’ roll het die verlorenes bymekaar uitgebring – die perfekte platform geskep om ’n verskeidenheid waarnemers die geleentheid te gee om hulle idees op film, in grafiese ontwerp en musiek neer te lê.
’n Guerilla-bemarkingsveldtog is uitgevoer om hulle posisie as waarnemers uit te beeld. Plakkate van die groeplede is rondom Johannesburg en Pretoria opgeplak om verbygangers nuuskierig te maak. Daar was vir maande niks wat hierdie plakkate aan die groep gekoppel het nie. Om ‘n antwoord te gee op wie hierdie misterieuse donker figure is, word die groep se naam asook die uitreikingsdatum van hulle album op die plakkate gesjabloneer. Voorbeelde van die plakkate kan gesien word by die volgende plekke:
Onder die brug op Barry Hertzog Laan.
Die steeg agter die Bohemian in Richmond.
Onder die brug op Empire Weg.
Vervalle gebou oorkant die Belavista Lounge in Bertrams.
Onder die brug op Hendrik Potgieter Straat, naby Hillfox Power Centre.
Kruger Park, Proes Straat, Pretoria.
Die musiek is ‘n klankbaan vir ’n hedendaagse Johannesburg en wêreld. Die musiekvideo, bemarkingsveldtog en omslagontwerp bind al hierdie idees tot ‘n eenheid.
Bloedskande is in 2007 gevorm deur Jan Smart, Siff en Shaun Ruysenaar in Observatory, Johannesburg. Hulle het ‘n reeks optredes in Johannesburg en Pretoria gedoen in die laaste paar jaar, met hoogtepunte soos Belavista Lounge, Landmine Rock en die Tswaing Krater Partytjie.