Artists » Andries Bezuidenhout » Bleek Berus

Bleek Berus

bleek-berus-front2

Format: CD
Catalog number: ONEF1019
Released: 2009

Tracks

  1. Sandmyn
  2. Die Laaste Brandwag
  3. Mombak se Sin
  4. Kliphart
  5. Hoëveld Utopia
  6. Dis Net Werk Toe Wat Nog Deur Hillbrow Ry
  7. Die Ritme Van Chaos
  8. Droogte
  9. Die Sprinkane se Begrafnis
  10. Vernichtungsbefehl

Information

One F Music kondig met genoegdoening die vrystelling van Andries Bezuidenhout se tweede solo-CD, Bleek Berus, aan. Andries is reeds bekend as een van die land se mees toonaangewende singer-songwriters.

Bleek Berus bevat tien splinternuwe songs, waarvan die meeste deur Drikus Barnard tussen 2007 en 2009 opgeneem is. Dit bevat ook “Die laaste brandwag,” wat deur Paul Riekert in 2004 opgeneem is vir KykNet se program “Die liedjies wat ons ken.”

Tematies sny die meeste van die lirieke by die tema “woestyn” aan, hetsy die Namib, of die Hoëveld as menslike woestyn. “Vernichtungsbefehl,” die laaste track, is ook beskikbaar as gedig in Andries se digbundel Retoer. Temas soos identiteit en emigrasie word weer ontgin, maar op nuwe maniere.

Musikaal is Bleek Berus in die styl van baie van hedendaagse Americana en alt-country opgeneem, maar met ʼn plaaslike inslag – sterk akoestiese buitelyne wat subtiel met elektronika ingekleur word.

Die nuwe album volg na Insomniak se Droomalmanak (2003), asook Spergebied (2002) en Terug in Skubbe (2005), wat hy saam met die nou ontbinde Brixton Moord en Roof Orkes vrygestel het. Aan die einde van 2007 het sy debuutdigbundel Retoer by Protea Boekhuis verskyn.

Press Reviews

“Oukei, hier hoor ek nou ’n liedjie wat vir klassieke status bestem is, is ’n gewaarwording wat jy bitter selde kry. Dis dan wanneer jou bloed ’n snaar word, soos David Kramer sê, en jy vergeet van alles anders in en om jou. Ek het daardie spesiale transendentale hoendervleis ervaar toe ek as omgekrapte 17-jarige in 1988 vir Johannes Kerkorrel en die Gereformeerde Blues Band in die ou Grand Central in Kerkstraat gaan kyk het en deur Hillbrow oorweldig is. En byna 20 jaar later by Oppikoppi 2007 word ek deur dieselfde gevoel herbesoek toe Andries Bezuidenhout sy “Dis net werk toe wat ek nog deur Hillbrow ry ” begin speel… En hierdie is nie die enigste juweel op Bleek berus nie. Bezuidenhout, vroeër die hoofsanger van die Brixton Moord en Roof Orkes, se tweede album bevat tien ambisieuse snitte wat veral die woord, die werklikheid en die emosie van woestyn verken in duister lirieke, mineurtone en afsydige melodieë vol skaduwees… Bezuidenhout het reeds met sy solo-debuut, Insomniak se droomalmanak (2003), bewys dat hy ’n hoogs begaafde liriekskrywer is, maar sy tweede is musikaal interessanter, veral vanweë Drikus Barnard se musiekregie wat intieme akoestiese kitaarspel treffend met elektroniese klanke en slagwerk inkleur en vervreem. Dis ’n merkwaardige album wat verbete probeer sin maak van ’n ongenaakbare wêreld, en in die proses Bleek berus vind in die treurige skoonheid van woord en klank.”
- Danie Marais, Beeld, 2 Desember 2009

“Tematies sny die meeste liedjies aan droë plekke. Soms het dit direk met waterlose landskappe te doen, andersins met plekke waarheen uitgewyk is en daar dan na die waterryke van die ­bekende gesmag word. Moet egter nie stofgetrapte gedagtes of ’n sentimentele geweeklaag verwag nie. Daar is humor en lewenswaar­hede wat werklik vermaak en met jou praat. Bezuidenhout het saamgespan met Drikus Barnard (Brixton van die voormalige Brixton Moord en Roof-orkes). Hulle het sowat twee jaar lank aan die album gewerk. Sy vorige solo-album, Insomniak se Droomalmanak (2003), het destyds al die hoop laat opvlam dat dit opgevolg sou word. Hoewel hy hom meer onlangs met die digkuns besig gehou het (en dit wys in die album), is die nuwe album meer as welkom. In ’n persverklaring word dit ‘hedendaagse Americana en alt-country’ genoem, maar hierdie album is uit Afrika. Waar anders kan die ‘Pikaninie-wiegelied’ só klink? Die elektroniese inkleding is oorspronklik en luister gerus na die ­onverbeterlike stemkombinasie van Bezuidenhout en Marissa West op die snit ‘Droogte’.”
- Marian Malan, Die Burger, Desember 2009