Source: Mariana Malan (Die Burger 23/03/2008)
RETOER, deur Andries Bezuidenhout. Protea Boekhuis, Pretoria, 2007. (Sagteband, 100 bladsye, ISBN 9 781 86919 182 5.)
DIE driehoek is nou voltooi.
Wat Andries Bezuidenhout met die albums Spergebied (as deel van die Brixton Moord en Roof Orkes) en sy solo-album Insomniak se Droomalmanak begin het, sluit hy nou af met die digbundel Retoer.
Die temas, woorde en gevoel van dié drie is so ineengestrengel dat hulle amper nie as afsonderlike eenhede beskou kan word nie. Bezuidenhout vul ook die woorde in die bundel met sketse aan wat teruggryp na die tyd toe die gedigte geskryf is. Hulle sê dieselfde, dra dieselfde gevoel oor.
Hierdie bundel kom oor jare. Dit kom ’n mens agter aan die temas wat daarin voorkom.
Die roman Ons Wag op die Kaptein van Elsa Joubert het reeds in Spergebied ’n rol gespeel. Die titel kom woordeliks voor in die lied “Geen Land”. Die roman dateer uit die 1960’s, maar Bezuidenhout het in ’n gesprek hieroor gesê die insig wat Joubert met die diverse aard van haar karakters getoon het, is steeds verstommend.
Net soos die albums, is Retoer deurspek met herinneringe, skuldgevoelens en in die algemeen nagmerries oor jong dienspligtiges se ondervindings in die weermag. Vir Bezuidenhout self is die betrokkenheid van genoemde soldate in die townships steeds na aan die nerf.
’n Enkele vergelyking is die lied “Die Geraamtes in jou Kas” op Spergebied, teenoor “Oog oor Mamelodi, 1988” in die bundel. Dis duidelik dat “die wiele van ’n Caspir en die reuk van brandende rubber” (uit die lied) en die herinnering van hoe die woonbuurt Mamelodi deur die oog van ’n teleskoop gelyk het, hoe die “Township-panorama oor die Magaliesmoot” ontvou het (uit die gedig), in nog ’n sensitiewe jong Suid-Afrikaner se geheue vasgesteek het.
Dié herinneringe word deesdae ál meer in ons letterkunde onthul. Hopelik bring die woorde wat daaroor geskryf word, balsem vir die siel.
Daar word dikwels gepraat oor die gebrek aan goeie lirieke in Afrikaans. Ook of lirieke ook poësie kan wees, soos juis op die onlangse Woordfees op Stellenbosch. As ’n mens Bezuidenhout se lirieke lees, is dit na die uwe se beskeie mening tog poësie. Neem byvoorbeeld “Droomargief” waarmee sy album Insomniak se Droomalmanak afskop:
Al hierdie drome bêre ek in lêers
In ’n grys kabinet vergaar hulle stof
Tot hulle, ontydig, een oggend
As die wekker lui, in my kop ontplof.
In sy bundel is hy glad nie spaarsaam met woorde nie.
Die gedig “Vernichtungsbefehl” beslaan vier bladsye. Dis waarskynlik die sterkste gedig in die bundel en ook die een wat hy gekies het om te toonset. Hy het dit al een keer gesing en self beskryf hy dit as “ ’n uitmergelende ervaring”. Hy het dié gedig gekies juis omdat dit een is wat hy graag wil hê mense moet hoor.
’n Ander gedig, “Bus na Toronto” (met verwysing na Leonard Cohen se lied “Famous Blue Raincoat”), was ’n lied op sy solo-album. Dit is wel effens geskommel en aangepas in digvorm.
Ander temas wat in Bezuidenhout se gedigte en lirieke voorkom, is sy liefde-haat-verhouding met die stad. In die bundel is dit veral Johannesburg en Pretoria, gelyk gestel aan die Bybelse Sodom en Gomorra, wat sterk figureer. Die leser sien deur sy oë die aggressie van die myndorp wat te groot geword het en die valerigheid van die kerkdorp wat uit sy nate gebars het.
Die strop wat die kerk om die nek gesit het, kom ook dikwels voor. Bybelse verwysings word kwistig gebruik. Hieroor het Bezuidenhout gesê: “Suid-Afrikaners kan nie oor skuld praat as die religieuse nie bygebring word nie.” Die treffendste gedig oor die houvas van die kerk is die een wat so effens op sy eie staan, “Notre Dame”.
Bezuidenhout se reis strek van Suid-Afrika na verskeie ander wêreldstede, maar soos die titel aandui, is daar tog ’n terugkeer. Hy is glo nou uitgeskryf oor sekere sake: “Soos strafwerk het ek dit uitgeskryf en nou kan ek aanbeweeg.”
Al is dit ’n eerlike en persoonlike beswering van duiwels, spreek dit tot die leser. Is dit nie in die eerste instansie wat poësie moet doen nie?
. Mariana Malan is lid van Die Burger se kuns redaksie.