Media Archive

Archives:

Om Te Breyten – Verskeie Kunstenaars

Source: Theunis Engelbrecht (Rembrandt)

Om Te Breyten CD Cover

Om Te Breyten

  1. Die Maar Man Met Die Groen Trui – Cobus Robinson
  2. Soos Ek Sê – Steve Hofmeyr
  3. Ek Sal Jou ‘n Leeu Gee – Jantjie Blom
  4. Ek Issie Klong – David Kramer
  5. Die Nag Is Stout – Valiant Swart
  6. Ballade Van Ontroue Bemindes – Wouter Van de Venter
  7. Aa Mens! – Johannes Kerkorrel
  8. Dagreis Vir ‘n Mens – Amanda Strydom
  9. Die Sterre Is Wurms In Die Heelal – Duusman
  10. Gedagtes Van Gedigte – Brasse Vannie Kaap
  11. Sin Vir Waardes Hol Mannekyne – Paul Riekert
  12. Ek Wag In My Hart – Laurinda Hofmeyr
  13. Verslag – Piet Botha
  14. Oun’ – Mynie Grove
  15. Rooiborsduif – Lize Beekman
  16. Klanke – Battery 9
  17. ‘n Brief Van Hulle Vakansie – Lieze Stassen
  18. Om Te Breyten – Anton Goosen

In die vorige Woema is geskryf oor hoe kwaai dit is dat so baie sangers en liedjieskrywers in die Afrikaanse poësie gaan soek vir inspirasie. Dit het al lank terug gebeur, byvoorbeeld in die destydse Musiek-en-Liriek-beweging, maar waar die hartklop van die poësie gekaap is deur akademici, kabaretkunstenaars en vryskut-intellektuele sodat dit gou ontaard het in ‘n alte pretensieuse trippie.

Een van die belangrikste Afrikaanse CD’s ooit is pas deur Gallo uitgereik: ‘Om te Breyten’ met Steve Hofmeyr, Jantjie Blom (Anton Goosen), David Kramer, Valiant Swart, Wouter van de Venter, Johannes Kerkorrel, Amanda Strydom, Duusman, Brasse Vannie Kaap, Paul Riekert, Laurinda Hofmeyr, Piet Botha, Mynie Grové, Lize Beekman, Battery 9 en Lieze Stassen. ‘Om te Breyten’ is een van die belangrikste Afrikaanse CD’s ooit omdat dit toonsettings bevat uit die poësie en prosa van Breyten Breytenbach, in baie mense se oë die grootste Afrikaanse skrywer wat Suid-Afrika tot nog toe opgelewer het. Breytenbach se werk is onmoontlik om in een sin te beskryf, maar as mens kyk na die soort stories wat op hierdie CD vertel word, kry jy ‘n goeie idee: ‘n man koop vir hom ‘n vis wat net groter en groter word

(‘Sin vir waardes hol mannekyne’, Paul Riekert); ‘n man wat vir sy lover ‘n leeu gee waarop sy Maandagoggend werk toe kan ry (‘Ek sal jou ‘n leeu gee’, Jantjie Blom); en ‘n klong van die Klein-Karoo wat die langpad Barrydale toe vat om skaap te steel, maar ‘n vrou trou duskant Grabouw wat vir hom skaaptjops braai, en die maan en die sterre daarbo is die goed waarin hy glo (‘Ek issie klong’, David Kramer). En dan is daar ‘n man wat sy sterre dank vir vrou tussen die bene, die son op die berg, ‘n voël in die see en ‘n môre vir sy nagte (‘Die sterre is wurms in die heelal’, Duusman) – om maar net ‘n paar te noem.

Aangesien die hele CD van snit 1 tot 18 ‘n hoogtepunt is, is dit moeilik om hoogtepunte uit te sonder, maar met die eerste paar luisterslae is ek veral weggeblaas deur Lieze Stassen (”n Brief van hulle vakansie’) – op plekke klink sy soos ‘n cross tussen Patti Smith en Janis Joplin sonder dat sy probeer om so te klink of aansit. Dis soos ‘n liedjie vol rou hulpkrete. Brasse Vannie Kaap se ‘Gedagtes van gedigte’ is ook ‘n helse blast, om die minste te sê. Ook Paul Riekert/Battery 9 en Wouter van de Venter se bydraes staan uit, asook die opwindende Pretoriase groep Duusman. ‘Aa mens!’ (Johannes Kerkorrel) het ‘n soort spiritual melancholie wat by ‘n mens bly spook. Ook Amanda Strydom se ‘Dagreis vir ‘n mens’ en Laurinda Hofmeyr se ‘Ek wag in my hart’ is uitsonderlik.

Dié paar voorbeelde beteken nie die res is enigsins “swakker” nie. Elke kunstenaar het op sy eie manier musiekasem geblaas in Breytenbach se woordwerk. Elke enkele kunstenaar wat tot hierdie CD bygedra het, verdien in die eerste plek komplimente vir hul gevoelvolle, trefseker

Toonsettings van die gedigte. My voorvaders fluister vir my dat wanneer ons almal oor honderd jaar onder die grond lê, sal hierdie CD heel waarskynlik klassieke en/of Africana-status geniet.